Ons fokus op ’n leefstyl van 24/7 Christen-wees deur liefde, viering, diens en eenwees.
Liefde
Viering
Diens
Eenwees
Ontmoet ons leraars

Ds Peet Crous

Karin en ek is al 35 jaar getroud en uit hierdie huwelik is 2 kinders gebore: Karla en Arno. Beide is in Windhoek gebore. Karin gee wiskunde van die huis af. Karla hou skool by Parktown Boys High. Arno studeer verder in siviele ingenieurswese.
My studies het ek aan Tuks voltooi. Tans fokus my bediening op ekologie, Caritas en pastoraat. Vir ontspanning groei ek bonsai boompies en my groot trots is ‘n Wildepruim.

Ek verwonder en verheug my oor die Here. God is eerder ‘n werkwoord as net ‘n naam en eerder ‘n reis as net ‘n blote bestemming.

Dr Fanie Cronje

Ek en Engela is in 1988 getroud en het uit eie keuse nie kinders nie. Engela dien tans as Direkteur van Informasie en Tegnologie by die Departement van Werkskepping en Arbeid. Ek het my studies aan UP voltooi, waar ek ook in Ou Testamentiese Wetenskap gepromoveer het. Na aanleiding van my studies by Unisa, het my belangstelling verskuif om ook argeologie en ou Nabye Oosterse Studies in te sluit. As gemeente en gelowiges het ons die verantwoordelikheid om die Bybel op  ’n kultuur-sensitiewe en geldige wyse te lees en te vertolk. Dié oortuiging rig my betrokkenheid op elke terrein van die bediening. 

Ds Fritz Snyman

Ek het groot geword op ‘n plaas buite Brits. Ek en Dianda is in 2003 getroud en ek is die gelukkige pa van drie pragtige dogters. Chardi, Franzé en Diandi. My studies het ek in 2001 aan Tuks voltooi waarna ek in 2002 na Potgietersrus-suid beroep is. Na sewe wonderlike jare in die Bosveld is ek in 2009 na Universiteitsoord waar die studente en studentelewe my vir 15 jaar besig gehou het. In 2024 is ek na Lynnwood beroep.

My doel is om deel te hê aan die lewens van mense. Om God te ontdek in die alledaagse en om Hom en die mense rondom my met my gawes te dien, maak my gelukkig.Deur my hele lewe, was dit ons gereformeerde teologie wat my bevry het van myself, sodat ek gemaklik in my eie “vel” kan wees.  Dit is vir my lekker om “oop-kop”, gemaklik, prakties en eerlike na die Bybel en my konteks te kyk. Die plek waar ek God die naaste aan my beleef, is saam met goeie vriende langs ‘n bosveldvuurtjie, onder die sterrehemel.

Ds Ernst van Wyk

Op ‘n Saterdagaand in 1987, gedurende ‘n uitsending van Spies & Plessis, is ek in Bloemfontein gebore. Gelukkig het my ouers spoedig hulle agterlosigheid besef en ons gesin het Pretoria toe verhuis. Dis hier waar ek in Gr. 3 ‘n praatrol in ‘n toneelstuk as leeglêer gekry het – iemand wat net heeldag rondsit en nie ‘n stekie werk doen nie! Moontlik was dit die begin van my ambisie om ‘n predikant te word!

‘n Paar jaar later het ek myself as ʼn uiters betrokke tiener by my tuisgemeente bevind en ‘n passie vir bedieningswerk ontwikkel. Ek geniet dit om kreatief met die bediening om te gaan – om nuwe maniere te vind om ou tradisies in te kleur en antieke verhale en wyshede nuut oor te vertel.

Barry van der Merwe

Ek het groot geword op `n plaas net buite Meyerton.
My teologiese studies het ek voltooi aan UP.
In 1979 is ek en Ina Oosthuizen getroud en ons het vier kinders en nege kleinkinders.

Oor die jare was ek werksaam in die NG gemeentes Voortrekkerhoogte-Oos (Dienspligkapelaan SA Lugmag), Pretoria-Faerie Glen, Empangeni, Universiteitsoord (Studenteleraar), Lynnwood, Letsitele en daarna was ek vir tien jaar bestuurder van die retreatsentrum Mosaiek Origins, buite Krugersdorp.
Sedert 1999 is ek betrokke by die aanbied van retreats.

Kuns, musiek en poësie verryk my lewe.

In Mei 2023 het ek en Ina weer ingetrek in Lynnwood en dis vir ons `n voorreg om weer deel van Lynnwood gemeente te wees.

Lynnwood Gemeente is die plek vir jou.

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle
neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ʼn ewige lewe.